ProfileSchafies' spacePhotosBlogListsMore ![]() | Help |
Schafies' space |
|||||||||||||||||||
|
January 29 Uiteindelik goeie nuus!Hallo almal!
Wel, dis nou al einde Januarie en ons het uiteindelik ons immigrasie-kwessie opgelos! Het vandag van ons lawyers gehoor dat ons probleme met die Immigrasie Owerhede op 'n spits gedryf is en dat ons aan die positiewe kant daarvan uitgekom het. Sjoe, dit was nogal erg stressvol die laaste paar weke en die dinge het amper begin lelik raak omdat dit so uitgerek was. Ons sal nou ons nuwe papiere en dokumente seker so oor 'n week of twee in die hande hê en dan sal Inkie kan begin werk weer. Gelukkig net tydelik, want nou kan die boormaatskappy wat my wil aanstel ook met my werkspermit se proses begin. Dit sal seker so maand of 3 neem en dan, sodra ek begin werk, kan Inkie afskaal na deeltyds. Prys die Here vir Sy Getrouheid. Ons het omtrent gebid die lasste paar maande - vir die eerste keer in ons gesin se lewe het ons met iets te doen gehad wat ons hele lewens kon radikaal beinvloed het, waaroor ons geen beheer gehad het nie. Dit was 'n ware "journey of faith" en werklik 'n leerervaring wat ons nog lank sal bybly.
Verder gaan dit goed. Almal is gesond behalwe vir my wat so effense geval van ernstige snotsiek opgedoen het. Snork almal wakker en kan nie ruik as Noki se doek vuil is nie! Dit is darem nie alles sleg nie, nê!
Ons werk aan die nuwe ou huis vorder goed en ek het uiteindelik die dak klaar reggemaak en vervang met sink, ons het die onderste verdieping se vertrekke (behalwe die kombuis) klaar geverf en is nou oppad boontoe met die trappe en gang. Het ook 'n groter venster in Noki se kamer ingesit, want die plek was erg donker. Die swembad kom ook goed aan - die water is amper blou nadat ek letterlik 3 bakkie-vragte vrot blare en stokke van die bodem af uitgeskep het. Dit was omtrent 'n job, maar dit is nou al meer as halfpad gewonne. Ons hoop om die plek so klaar te kry dat ons einde-Maart kan intrek daar sodat ons die swembad kan geniet as die somer hier aankom in April se kant. Ons dink dat ons huidige huis dan dalk makliker sal verkoop as dit leeg is en beter kan gewys word. Of dalk op die "worst case scenario" sal ons hier huis verhuur vir 'n jaar totdat die huismark hier weer meer herstel het. Dis ons volgende ernstige gebedsaak en ons glo dat die Here ons nie al die pad tot hier gebring het om ons nou met die probleempie te los nie.
En dan geniet ek nogal die voor-verkiesings van die president ook baie. Dis interressant om te sien hoe die mense dit doen en dan raak die klomp lierale demokrate nog lelik met mekaar ook. Ons sal maar sien wat gebeur - hoop net dat wie ookal die republikeinse kandidaat sal wees, vir of Hillary of Obama kan uitstof. Daai twee is albei ewe gevaarlik vir die land - hulle is heeltemal te links met dinge wat saak maak vir ons mense wat glo dat ons geloof belangrik is.
Nou ja, ek dink die nuus is op - het sommer net lus gevoel om die blog bietjie op te dateer - geniet die paar fototjies wat ek ook insit. Dan gaan ek slaap, want dis amper half-2 in die oggend.
Groetnis en liefde vanuit Dublin
December 04 Dis al Desember!Hallo almal
Net 'n vinnige paar fototjies om julle te wys ons is reg vir Kersfees. Alles gaan goed - geniet die vakansie wat voorlê en mag die Kerstyd geseënd wees vir almal van julle.
Groetnis vanuit Dublin November 25 26ste November 2007Hallo weer uiteindelik almal wat hier op ons blog-site van ons nuus lees!
Dit is nou omtrent 3 maande seert ons laaste nuus-inset en weer hoogtyd dat ons almal op hoogte bring. Ons lewens sedertdien het letterlik allerhande draaie en swaaie gehad en ons kan net met dankbaarheid sê dat die Here ons altyd met veiligheid tot stilstand bring. Ons het in September met die hulp van iemand wat ons leer ken het in die eiedomsmark begin rondkyk na die moontlikheid van iets koop as 'n belegging. En met die dat die eiendomsmark hier in die VSA 'n ongekende laagtepunt beleef, is "foreclosures" (huise wat deur die banke teruggeëis en opgeveil word) al meer volop. Dit is so 'n plek wat ons raakgeloop het. Gebou in die 1920's en 'n tipiese "Southern Plantation Estate House" wat alreeds deur een van die vorige eienaars gerestoureer is. En die laaste eienaar het seker agtergeraak met sy paaiemente en dit is teruggevat deur die bank en op veiling geplaas. Met 'n bestiering van Bo was ons daar op die regte tyd op die regte plek en ons kon dit koop teen 'n fraksie van sy eiendomswaarde. Met ons huidige huis net klaar opgeknap en en alles klaar en reg en nuut, is ons voor die onaangename besluit van om dit te verkoop net sodra dit presies is soos ons dit wil hê. Maar dis 'n "no-brainer" om hier te verkoop en die ander ouer plek te koop. As ons hierdie huis verkoop, kan ons die lening aflos en die ander ou plek kontant koop om dan sonder 'n huispaaiement te kan leef! Dit sal wonderlik wees en ons is dus nou sterk aan't bid en werskaf om dinge so te laat uitwerk.
Verder het ons ook met "home school" begin die eerste week van Oktober en is die kinders nou nie meer in die skool nie. Hulle is elke dag tuis en dit is verseker die beste besluit wat ons nog geneem het sedert hulle gebore is. Lika en Ilke geniet dit vreeslik en so ook ons 2 wat moet onderwyser speel. Dis nou eers 2 maande van dit doen en ons beleef reeds dat ons betrokkenheid in hulle lewens nie net op akademiese gebied die moeite werd is nie, maar met die uitgangspunt van die "homeschooling" wat is om jou kind te leer om sy/haar plek in God se plan vir hierdie wêreld te kan herken, leer ken ons hulle selfs beter as voorheen en word ons ongelooflike goeie vriende ook nog. Nie "pêlle" nie, maar vriende. Vriendskap is diep en die respek wat ons vir mekaar het, groei outomaties vanuit die feit dat ons in mekaar se lewens belê op 'n daaglikse basis. En daardie oer-oue ding van "die kinders moet sosialiseer" is ook nie waar nie. In elk geval nie vir die opset wat ons hier in Dublin het nie, want daar is so baie families hier wat dit doen, dat daar 'n baie groot poel van gesinne is met dieselfde waardes en doelwitte as ons waaruit mens kan kies om mee te sosialieer om die regte tipe vriende in hulle lewens in te bring. Daardie onbeheerde en grootliks onbekende invloede wat in die skole jou kinders beinvloed word heel uitgeskakel en jy as ouer kan jou kinders grootmaak om die wêreld te kan weerstaan omdat hulle gegrond is in 'n vaste familie-opset met 'n definitewe familie-identiteit en met christelike beginsels wat hulle lei in die regte rigting met hulle besluitneming. En dit is vir ons die moeite werd. Maar almal se opsette verskil en mens kan nie vir almal dieselfde dinge toepas nie.
'n Ander groot gebeurtenis wat ons deurgemaak het (of eintlik steeds aan die gang is), is dat ons probleme met ons immigrasie-papiere opgetel het en dat Inkie sedert 20 Oktober nie kon werk nie. Dit is tegelykertyd erg stressvol sowel as baie opwindend. Die kort van die storie is dat ons moes immigrasie prokureurs aanstel (en hulle kos 'n fortuin!) om die storie uit te sorteer en dat dit seker eers hier teen die einde van Desember finaal weer inplek sal wees sodat sy kan gaan werk. Dit is nogal 'n aanpassing en ons moes rolle omruil binne die bestek van een dag. Sy het die homeschooling oorgeneem en ek hou die pot aan die kook. Maar tussen die stres deur het die hand van die Here weer ingegryp en ek het 'n aaanbieding vir 'n voltydse werk gekry as geohidroloog by 'n plaaslike maatskappy wat ons nie eers geweet het bestaan nie. Dit beteken dat Inkie nie meer voltyds sal hoef te werk nie en ek sal die hele immigrasie-proses en groenkaart-aansoek op my kan neem sodat ons huisgesin uiteindelik na amper 4 jaar weer normaal kan funksioneer! Prys die Here!
Die firma is eintlik in die staat Nebraska gesetel en dit is 'n groot boormaatskappy wat op groot skaal in die grondwaterbedryf opereer met die boor van boorgate. En die enigste kantoor in die firma wat ook 'n spesialis-geohidrologie kantoor het, is die een in ons staat Georgia waarvan die geohidrologie-kantoor in ons dorp Dublin geleë is - binne 'n kilometer van ons huis af! Dit is net 'n wonderwerk dat dit so uitwerk. En die mense het deur iemand wat ons ken van my gehoor en begin om my te kontak om my cv in te bring en na 'n werksonderhoud so 2 weke gelede het hulle my 'n pos aangebied en is ook bereid om my te sponsor vir ons groenkaart. Dit is wonderlik en ons is baie opgewonde. Ek sal wel moet weg wees van die huis af van tyd tot tyd, maar dis maar die aard van geo-werk wat ons nie kan verander nie. Hulle is tans besig met geohidroligie-projekte in 4 state, naamlik Georgia, Suid-Carolina, Alabama en Florida. Maar net die kans om vir iemand hier in Dublin te kan werk as geohidroloog is reeds 'n wonderwerk en ek is bereid om iewers te begin met my loopbaan. Die res van die dinge sal uitsorteer oor tyd en ons weet ook dat ons lewens in elk geval nie in ons hande is nie.
Wel, nuus nader aan die gesin is dat Gernot Jnr (Noki) gister amptelik volstoom begin kruip het. Hy is soos die Road-Runner wat letterlik rondbeweeg sodra hy grondvat. Heeltemal 'n ander storie as wat die 2 sussies van hom was! En hy het 2 tande onder wat so saam-saam uitgekom het. Hy is regtig 'n karakter wat ons nog baie pret (en skokke) gaan verskaf. En Lika en Ilke geniet hom baie en bederf die mannetjie vreeslik. Hy het 'n bos hare en lyk net meer en meer na Lika en Ilke toe hulle klein was.
Nou ja, dis omtrent 'n lywige nuusbrief en ek gaan nou eers afsluit. Geniet die foto's op die blog wat ek hopelik nou hierna sal kan insit sonder probleme. En skryf maar gerus in op die blog sodat ons so kan kontak hou. Weet asb dat ons gedagtes en gebede meer vir julle insluit as wat dit die geval is met ons email en telefoon oproepe. Ons bid gereeld vir almal wat ons daar ken en ons glo dat julle sal geseën word.
Alles wat mooi is en en laat dit goed gaan. Seën in Sy Naam vir julle almal!
Gernot, Inkie, Lika, Ilke en Noki August 19 19 Augustus se nuusHallo daar almal
Wel, hierdie keer kon ek dit regkry om weer nuwe foto's op te sit en dit kan julle hier langsaan op die album van 19 Augustus sien. Hier met ons gaan dit goed en ons kan nie kla nie. Net vrek warm en droog - ons kry darem nog so een maal per week 'n lekker donderbui wat rondom 25mm of wat meet, maar vir hierdie wêreld is dit droog. Alles is nog baie groen en ons geniet dit in elk geval.
Ons trippie hier op na New Jersey en Pennsalvanië was baie lekker - net lam gery toe ons terug by die huis aangeland het. Om die 1900 myl te ry binne 5 dae was darem nogal erg - veral vir Gernot jnr wat sy karstoeltjie deurgesit het. Maar die vinnige kuiertjie by Carter en Tania by sy ouers was lekker - het die strand geniet en al die ander dinge wat Ocean City vir ons gebied het. Dit is 'n regte vakansiedorp wat mens 'n hele vakansie kan besig hou. Dus is ons daar weg met 'n seer hart omdat ons nou vir 'n wyle nie weer familie sal sien nie, maar ons sien uit daarna dat ons ten minste hopelik vir Pa sal kan sien iewers volgende jaar.
In Philadelphia het ons toe vir Elliot ontmoet - dis die baba wat ek laas van vertel het. Ons kan sê dat die mannetjie aan't herstel is na sy groot hartoperasie en dat Johnathan en Sunette en Elliot al begin praat van huis toe kom oor 'n week of wat. Wonderlike nuus en die Here is goed soos altyd.
Die kinders het ons dag of wat daar ook geniet want ons het na die Liberty Bell gaan kyk en al die geskiedenis rondom die uitstalling, sowel as na die huis en storie agter Betsy Ross. Sy was 'n meubel-stoffeerder wat die eerste vlag van die VSA gemaak het op versoek van George Washington. Baie interressante besoek daar ook gewees.
Verder is daar nie baie nuus nie - ek dink die foto's vertel meer van hoe ons daar uitsien en wat ons alles aanvang. Dus sal ons weer oor 'n week of 3 nuwe nuus op die blog sit om weer op te vang.
Groetnis vanuit 'n vrek warm Dublin July 24 Schaaf-nuus updateNou ja almal!
Uiteindelik is ons weer op die lug en word ons nuus bietjie opgevars. Die afgelope 3 weke het my suster, Tania, met haar twee kleintjies hier gekuier. Nina (amper 3) en Jaden (amper 1) is ons kinders se niggie en nefie en dit was goed om die familiebande te kon sien posvat en groei. Die 3 meisies veral het heerlik gespeel en die kuiertjie baie geniet. Jaden en Gernot Jnr het mekaar maar so aangekyk asof hulle wonder wanneer hulle nou die kans sal kry om te speel. En tussen al die kinders deur en werkery het ons tog 'n heerlike kuier gehad. Het niks vreesliks skouspelagtigs beplan of gedoen nie, want ons het almal gevoel ons moet by die huis bly en die kinders kans gee om mekaar te leer ken en te geniet.
Verder is die somervakansie op sy laaste stuiptrekkings en begin almal al praat van teruggaan skool toe. Die 6de Augustus is D-dag en Lika sal dan Graad 4 betree met Ilke wat Graad 1 sal wees. Soos Tania dit gestel het toe ons mekaar die dag op die lughawe gesien het met hulle aankoms; " Dit lyk nie of enige tyd verby gegaan het as sy na my kyk nie, maar die kinders wat so gegroei het, is bewys dat daar wel baie water onder die brug deur is sedert ons laaste sien in 2004". Gernot is ook oormore 5 maande oud en die mannetjie is 'n knewel. Hy dra al 6-9 maande-grootte klere en sommige daarvan sit ook al knap. En elke oggend lyk dit of hy 'n ent gegroei het.
Ons beplan om 8 Augustus op te ry na Ocean City in New Jersey om so vir 'n paar dae by Tania en Carter te kuier en dan aan te gaan na Philadelphia in New Jersey om by vriende van ons wat daar is vir hulle nuutgebore baba se herstel na hartchirurgie, aan te klop en hulle bietjie te ondersteun. Die mannetjie is vanoggend gebore en is more-oggend in die teater vir die eerste van 'n reeks van ope-hart-prosedures wat nodig is. Die Children's Hospital in Philadephia is een van 2 fasilitiete in die VSA wat die spesifieke tipe pasientjies hanteer. Dit sal omtrent 6-8 weke van Johnathan en Sunette vat voor hulle kan begin beplan om terug te kom Georgia toe. Sunette is Inkie se beste universiteitsmaat wat ook 'n arbeidsterapeut is en hier met Johnathan getrou het. Hulle seun is Elliot en die mannetjie is 'n wonderwerk op sigself. Aanvanklik is daar verwag dat hy nie volle termyn sal maak nie, toe kom hy die tyd deur en word vanoggend gebore. Waar die sonars tot so onlangs as gister gewys het hy het net 1 atrium en 1 ventrikel het, maw 'n halwe hart, het die mannetjie met geboorte al 4 hartkamers gehad en is die nood-operaie uitgestel met 'n dag. Dis werklik 'n wonderwerk, want daar was 'n 1 uit 3 000 kans dat die outjie sy eerste 10 minute sal oorleef indien onmiddellike hartchirurgie nie gedoen sou word nie. En daar is dit reeds met 'n dag uitgestel! Ek moet se dat daar die laaste paar weke baie gebede vir hom opgegaan het en dat die Here net weereens Sy Almag bewys het deur die genesende wonderwerk sommer al in Sunette se maag laat plaasvind het.
Ai ja, ek sluit nou eers af want dis amper middernag. geniet die foto's met die nuutste blog-uitgawe.
Groetnis vanuit Dublin, GA. |
Thanks for visiting!
|
|||||||||||||||||
|
|